SCN_0002

SCN_0001

Geskiedkundige Agtergrond

Geskiedenis  van Ceres Sekondêr

Dr H Beets gebore op Wolseley en ‘n baie dinamiese man, was die dryfveer agter die stigting van sekondêre opleiding vir die kinders van Ceres en Witzenberg omgewing. Volgens dr Beets was die stigting van ‘n middelbare skool belangrik vir Ceres en omgewing omdat die meeste kinders uit Ceres na omliggende dorpe moes gaan vir sekondêre opleiding. Esselenpark  Sekondêr in Worcester was die naaste hoërskool en het dus die meeste leerders vanaf Ceres en omgewing getrek. Baie leerders het ook skole in Paarl, Wellington, Malmesbury en Caledon bygewoon. Al bogenoemde dorpe het dus opgetree as gasskole vir die leerders van Ceres en omgewing.

 

Die ouers (werkersklas)  van die destydse N.G Kerk ( vandag V.G. K kerk) het op ‘n punt gekom waar hulle gesê en gevoel het , hulle kon nie meer die skole buite die dorp bekostig nie. Hierdie ouers het gewerk in die vrugte fabriek, was seisoen werkers of het op plase gewerk.Baie plaaskinders het nie na bogenoemde skole gegaan nie, hierdie leerders het na die destydse st.6 die skool verlaat en het  op die plaas gaan werk omdat die ouers dit nie kon bekostig om hul kinders weg te  stuur nie. Dr Beets het daardie behoefte raak gesien en in die laat 1960 met samesprekings begin met die destydse Department van Kleurling Sake om ‘n skool gevestig te kry in Ceres.

In 1972 is begin met die destydse Ceres Middelbare skool( middelbaar omdat dit slegs st6,st7 en st8 gehad het) op die perseel van Morrisdale Primêre Skool. Die eerste klasse begin met St 6 tot St 7 met ongeveer 10-12 klasse en 15 onderwysers.Die skool begin met ‘n leerdertal van ongeveer 350-400 leerders. In 1973 is met die eerste st 8 begin en leerders het vanaf die gasskole teruggekeer na hulle tuisdorp om die Ceres Middelbare skool by te woon.Die vakke by die skool was bloot akedemies met een handelsvak Rekeningkunde.  Behalwe Ceres en Witzenberg omgewing moes hierdie middelbare skool ook leerders van Touwsrivier, Gouda, Saron, Tulbagh en Piketberg huisves.

In 1973 toon die skool geweldige groei en word die leerling kapasiteit te groot vir die perseel van  Morrisdale Primêr. Morrisdale Primêr moes toe primêre en sekondêre leerders huisvers. In 1973 is tydelike geboue opgerig op grond wat aan die N.G Kerk toegewys was.Dr Beets het as gevolg van sy strewe om die skool te sien groei, met die kerkraad onderhandel en die skool is opgerig op grond wat deel was van die toewysing van die N.G Kerk, nog steeds Ceres Middelbare Skool. In 1973 is die skool amptelik verskuif vanaf Morrisdale na die perseel in Lylle Straat met die tydelike geboue en sou dit ‘n middelbare skool bly vir St 6, St 7 en St 8. Sanitasie geriewe was ondergemiddeld want die ablussie geriewe was weg van die skool en die skool het geen omheining gehad nie. Leerders kon oor die veld reguit in die klas gaan, omdat daar geen beskutting was nie.  Die aantal leerders wat st 8 in 1973 slaag moes bevorder na st 9. Dit sou beteken dat ‘n groot aantal leerders die dorp moes verlaat  vir verdere sekondêre opleiding  of sommige  moes noodgedwonge  die skool verlaat. Indien leerders die dorp moes verlaat het, sou dit gepaard gegaan het met  finansiële uitgawes en baie sou slegs skool verlaat het om op die plase of fabrieke te gaan werk het.

Aansoek is gedoen na die Department van Kleurling Sake en vergunning is gemaak dat leerders wat st8 slaag die volgende jaar met st 9 kon begin. Die gedagte was dat daar slegs twee st9 klasse sou wees. Hoe meer die leerlinge gegroei het, hoe makliker het die gegoede ouers  hul  kinders  na die Ceres middelbare skool gestuur. In 1974 word die middelbare skool ‘n amptelike hoërskool met die eerste st 9 leerders. 1975 Het die skool sy eerste matrikulante en die onderwysers was ongeveer 28-30. In 1974 word die skool hervernoem na Fred Gum die kommisaris van Kleurling Sake. Die skool word na Fred Gum vernoem omdat die meeste samesprekings en onderhandelinge tussen hom en Dr Beets plaasgevind het.

In 1974-1976 is begin met onderhandelinge vir ‘n permanente gebou , maar in 1976 breek die onluste by swart en bruin skole uit.Tydens hierdie onluste was die tydelike geboue onder druk om aan die brand gesteek te word  as gevolg van onluste oral in die land. Dieselfde tyd word die St. Andrews  Kerk in ‘n brand verwoes. Vrees was as gevolg van die situasie in die land en die swak omstandighede by Fred Gum dat die skool die volgende teiken sou word.Hoërskool Fred Gum het “Gutter education “verteenwoordig  as gevolg van die swak gehalte en toestande van die gebou.  Die kanse was  dus groot dat die gebou beskadig sou word.Die onderwysers van destyds het die skool fisies in die aande gaan oppas, daar geslaap en soggens by die huis net gaan eet en was.Hierdie uiters swak gebou moes ten alle koste beskerm word, sodat ‘n permanente gebou opgerig kon word. Ten spyte daarvan was die leerkragte en die skoolhoof Joey Stynder (waarnemende prinsipaal 1995-1976) se idiaal en oogmerk ‘n permanente skoolgebou vir Ceres wat ‘n groot area kon bedien. Dit was ook die verkoopsfokus vir dr Beets, die skool sou nie net ‘n skool vir Ceres se leerders wees nie, maar moes ook omliggende dorpe en plase bedien.

In 1977-1978 koop die department ‘n stuk grond wat deel was van ‘n plaas genaamd Die Eiland.Die rede vir die koop van  grond in Gardenia Laan was die grootte van die grond en die mees  belangrikste rede was die groepsgebiede wet. Die grond in Lylle Str was vir blankes gereseveer.  Die uitsluitlike doel was om ‘n skool daar te vestig wat 1000 plus leerders kon akkomodeer  met koshuisgeriewe vir  ongeveer 200  leerders vanaf ander omliggende  dorpe en plase uit die Warme en Koue Bokkeveld.  In 1979 verskuif die skool vanaf die tydelike geboue na die permanente strukture en op 07 Maart 1980 word Hoërskool  Fred Gum amptelik ingehuldig met dr Badges as hoof.In 1990 word die skool se naam verander na Ceres  Sekondêre Skool.Rolspelers betrokke by die verandering van die naam het gevoel dat die woord Hoërskool die stigma van apartheid ondersteun het.

Xhoza leerders was deel van die skool sedert sy bestaan met Afrikaans as eerste taal omdat daar in die apartheids era  geen apartheid tussen swart en bruin leerders was nie.  Die Xhoza leerder wat iewers  wou kom in die lewe het gesien dat Hoërskool  Fred Gum vandag Ceres Sekondêr, die” voertuig” kon wees waarmee hulle iets in die lewe kon bereik. Die voormalige swart area het geen hoërskool gehad nie. As gevolg hiervan het N’Duli ook vandag ‘n hoërskool. Vandag bly daar swart mense  en kleurlinge. Tot vandag het ons Xhoza sprekende leerders want elke kind is slegs ‘n leerder, ongeag sy omstandighede. In 2012 was Ceres Sekondêr 40 jaar oud en groei die skool nog steeds van krag tot krag. In die 40 jaar het die skool nog net drie amptelike hoofde gehad en bestuur die derde (en huidige) hoof  mnr R.S. Balie nog steeds die skool  .  

Geografie

Ceres Sekondêr is geleë in die Ceres Vallei aan die voet van die Witzenberge langs die Dwarsrivier. Aan die agterkant van die kleurling area in die Rooikamp tussen die plaas Die Eiland en die  Eilandvakansie oord huise.  Vandag  is die skool ‘n “eiland” vir ‘n verarmde gemeenskap. Waar  die gebruik van dwelmmiddels die hoogte in geskiet het en die werkloosheidsyfer onder jongmense verskriklik hoog is. Die ras samestelling , mate van finansiële bydrae en inaggenome die ekonomie van daardie gemeenskap word die skool in ‘n bepaalde kategorie geplaas. Hiervolgens word skole ingedeel volgens sy behoefte en om die sosio-ekonomiese vlak van die bepaalde gemeenskap te ondersteun. Bepaal deur bogenoemde, word interpolasie grense getref waarbinne skole sou val om dan in ‘n kwantiel van 1-5 verdeel te word. Omdat die skool egter in die dorp geleë is, word die skool deur interpolasie in kwantiel 4 deur die WKOD geplaas. Hierdeur word ons skool en leerders benadeel deur sy  monetêre toekenning vanaf die WKOD.Toekenning per leerder is minder want ons skool word geag ‘n middelklas skool. In praktyk moes ons skool egter in kwantiel 2 ingedeel word. Deur hierdie meting word probeer om ekonomiese probleme te oorwin.

 

 

Ras:

Die term ras word gedefinieer as ‘n groep mense vebind deur ‘n gemeenskaplike afkoms en gekenmerk deur min of meer  vaste erflike eienskappe en deur  ooreenkoms wat belange, gewoontes en uiterlike betref.( Jelleke Wierenga: Burger: 2009)

 

Ek stem saam met bogenoemde stelling deurdat mense in Suid Afrika gegroepeer was op fisiese voorkoms en gemeenskaplike belange. Ons skool het onstaan in ‘n tydvak en era van apartheid in 1972, waar mense ingedeel was volgens hul velkleur bv blank, kleurling en swart. Ons moet dus onthou dit was die era en belangrik die land, provinsie en dorp  waarin die skool ontstaan het.Ceres Sekondêr het dus uit bruin leerders bestaan met enkele swart leerders wat te lig was om as swart geklassifiseer te word en te donker was  om blank te wees. Dus voor iemand nog iets van jou geweet het, is jou I.K, waarde as mens, waardigheid waarmee jy behandel moes word en hoeveelheid respek teenoor jou getoon deur jou velkleur bepaal. Dus volgens die skryfstuk van Julie Landman ( Confronting the racism of low expectations), was en word swart sowel as bruin leerders as die stadiger leerders aanvaar en bestempel ongeag die prestasie vermoë binne daardie leerders.

“In its non-biological interpretation, then race stands for historically specific forms of cultural  connectedness and solidarity”( Goldberg: 1993;59)

Deur bogenoemde stelling verstaan ek dat ras verbind met kulturele verbondenheid en solidariteit en daardeur kan leerders een word. Diversiteit ten opsigte van ras en  kultuur kom in alle samelewings voor. In Suid Afrika bestaan daar groot kulturele diversiteit. Ons skool word gekonfronteer met die realiteit om leerders van verskillende kulture gelyk en regverdig op te voed. Skole is die sleutel in sosiale instellings wat jongmense verbind en hul sosiale kontekse asook die historiese tye waarin hulle leef. “Binne sy kultuur is die leerder relatief geborge” (Gayle: 1993 ;70). By ons skool is dus leerders wat elkeen ‘n besondere taal, waardes en vaardighede met hulle saamdra. ‘n Leerder se menslikheid en wese kan nie geisoleerd is of geskei word van hom of haar kultuur nie. Ons klaskamers word meer multikultureer en opvoeders word gereeld ingelig oor die invloed van verskillende kultuur agtergronde op ons leerders se ontwikkeling. Daardeur besef ek dat ‘n organisasie ontwikkel nie, maar wel die mense binne in daardie organisasie. Dit is dus nie die skool wat goed is as ‘n organisasie nie, maar wel die onderwyders en leerders wat met mekaar interaks.

 

“Race does not function in an isolated manner, but also interacts with other factors such as culture identity and class”(N. Dolby:1964; 8,9 )

Na aanleiding van bogenoemde stelling funksioneer ‘n ras nie alleen in isolasie nie, maar interaks met ander faktore soos kultuur, identiteit en klas.Elke mens skep kultuur , kultuur verskil egter van persoon tot persoon. Mense rig hulle lewe in na gelang van die waardes wat aan hom gestel word. Sy waardes is ‘n lewensopvatting en kry gestalte in sy kultuur.Die skool het dus die taak om die kind op te voed in die kultuurwaardes en op grond van die norme sisteem van die gemeenskap waarin die skool geleë is. Ons as opvoeders sien die leerders ongeag hul ras as mens raak en word die kind ongeag sy omstandighede of kultuur met die nodige agting en respek  behandeling. Skoolkultuur handel oor eksterne faktore, interne faktore en dieperliggende aannames. Om verbetering van die skool te laat plaasvind, moet daar ‘n verbintenis wees tot die verandering en gevoel van die manier waarop dinge gedoen word.Ons by Ceres Sekondêr aanvaar elke kind as ‘n unieke persoon met ‘n eie identiteit.Alle leerders by ons skool is op dieselfde aandag en agting geregtig.Alle leerders by ons skool word op dieselfde manier hanteer en alle leerders het gelyke toegang tot alle fasette van ons skool.  Die kind se kultuur moet dus by die klimaat van ons skool aanpas, omdat die skool sy eie reëls en eto’s het en moet leerders by Ceres Sekondêr se sosiale historiese agtergrond aanpas. Leerders leer ook binne hul eie kultuur waardes soos bv respek, asseblief en dankie. Deur kulturele gebruike van die skool leer die kind om onderskeid te tref oor hoe om sy waardes uit te leef. Verskillende kulture bewys respek op verskillende maniere, by ons is daar plek en geleentheid vir elke kultuur om uitgeleef te word. Ons moet  onthou dat elke mens skep kultuur, kultuur verskil egter van persoon tot persoon.  Leerders rig hulle lewe in na gelang van die waardes wat aan hulle gestel word. Leerders se waardes kry ‘n lewensopvatting  en kry gestalte in sy kultuur.

Huidiglik in 2018 beskik die skool oor ‘n leerlingtal van 1 305, met 37 opvoeders. Vir die afgelope twee jaar word die die skool deur ‘n vrou mev W. Strauss bestuur. ‘n Eerste in die geskiedenis van Ceres Sekondêr.

 

Navorsing en geskryf deur Michelle N. Adendorff

Met groot dank en waardering aan mnr Cupido Baron, Joshua Jack en vader Piet Minnaar vir die agtergrondkennis en positiewe bydrae om hierdie navorsing moontlik te maak.

Tel:

023 312 2460

email:

ceressec@mweb.co.za

face.JPG

0233122460

©2018 by Ceres Sekondêre Skool. Proudly created Barry Van Neel